Rayton-Met-Spookstories

• Breek weg uit die stad en beleef ‘n aand van storievertellings in die plattelandse omgewing van Cullinan en Rayton tydens hierdie oornag-uitstappie.
• Luister na van die spookverhale wat hier, maar ook elders in die land, afgespeel het.
• Ontdek die geskiedenis van die omgewing wat midde in die Anglo/Boere-oorlog staan.
• Leer meer oor die bo-natuurlike en die verskillende tipe geestesverskynsels om ons.
• Sit om ‘n kampvuur op die perseel van die voormalige Van der Merwe-treinstasie in die distrik wanneer die aandprogram met die laaste dramatiese storievertellings afgeluit word.
• Stap deur ‘n donker, geheimsinnige bos op die voetspore van Britse soldate en gevange Boerevroue en –kinders wat terug dateer na die Anglo/Boere-oorlog.
• Eet en slaap oor in ou treinwaens op die perseel. Maar wees gewaarsku: Moenie te rustig slaap nie, want wie weet of die spoke van die soldate wat 117 jaar gelede hierdie stasie bewaak het, weer gaan opdaag om te kom kyk wat vanaand hier aangaan.
• Die kaartjieprys (vanaf R490 tot R690) sluit die storieprogram, akkomodasie asook aandete en ontbyt in. ‘n Klein en basiese kontantkroeg is beskikbaar, maar jy is welkom om ‘n koelsak met jou eie drankies saam te bring.
• Jy ontvang ook twee gratis kaartjies (ter waarde van R490) om die Pretoria Spookbustoer op enige aand van jou keuse volgende jaar by te woon.
• Bespreek hier aanlyn

Die laaste gedeelte van die program word langs 'n kampvuur aangebied.
Die laaste gedeelte van die program word langs ‘n kampvuur aangebied.

BELANGRIK OM TE WEET

• Cullinan en Rayton is sowat 40 km vanaf Pretoria, 90 km vanaf Johannesburg, en 60 km vanaf Kemptonpark.
• Ons ontmoet mekaar om 15:00 Saterdagmiddag by die Premier Hotel in Cullinan.
• Almal ry in ‘n konvooi vanaf Cullinan na die Getaway Coaches-venue in die distrik. Op pad na die venue is daar ‘n grondpad van sowat 2,5 km lank.
• Die storievertelling-aanbieding loop teen ongeveer 20:00 ten einde op die perseel van die Getaway Coaches-venue (aangelê op die gronde van die voormalige Van der Merwe-treinstasie) waarna ‘n braaivleis-aandete bedien sal word.
• Ons slaap oor in ou treinwaens by die venue sodat ons hierdie nostalgiese ondervinding weer kan herleef soos dit destyds was. Die akkomodasie is dus geensins bedoel om ‘n ster-gradering soos ‘n hotel te hê nie.
• Normale en opgevoede teater-etiket is van toepassing tydens die storievertellings. Dronk en luiddrugtige persone sal die vertellings glad nie waardeer nie. Hulle sal die uitstappie vervelig vind en daarom ook onwelkom voel.


DIE GESKIEDENIS VAN DIE VAN DER MERWE-TREINSTASIE

Dit is op hierdie einste treinstasie waar Paul Kruger, destydse president van Transvaal, in Mei 1900 oornag het toe hy per trein uit Pretoria gevlug het kort voordat die Britse soldate die stad binnegeval en die regering oorgeneem het. Daarna het die Britse regering ook van die stasie gebruik gemaak om die Boerevroue en -kinders wat hulle in hierdie omgewing gevange geneem het, in oop treintrokke weg te neem na daardie gevreesde konsentrasiekamp in Barberton. Die oorspronklike Van der Merwe-treinstasie bestaan lankal nie meer nie, maar die geskiedenis en spoke wat die plek omhels sal altyd by ons bly.

Ons slaap oor in ou treinwaens by die venue sodat ons hierdie nostalgiese ondervinding weer kan herleef soos dit destyds was.

 

Die Pretoria Spookbus Toerproduksie