Vrae en Antwoorde

'n Uitstappie met 'n verskil: Spookstories - Inligting oor die bonatuurlike - Delf terug in die geskiedenis.

Maak seker jy weet wat om te verwag voordat jy bespreek. Die mees algemeenste vrae van die publiek word hier beantwoord:

 

ALGEMENE VRAE VAN TOEPASSING OP BEIDE AANBIEDINGS

Wie is die teikenmark?
Ons storievertelling-aande is onbeskaamd gemik op die familie of paartjie wat ‘n opregte belangstelling in die geskiedenis het, wie werklik wil luister na vertellings van die beste spookverhale wat in die omgewing afspeel, asook diegene wat meer oor die bonatuurlike, die geestelike en die Goddelikheid te wete wil kom.
Daarom akkomodeer ons nie sosiale groepe, funksies of blokbesprekings (soos bv. vir korporatiewe-, spanbou-, verjaarsdag- of klubuitstappies) nie.
Normale en opgevoede teater-etiket is van toepassing tydens die storievertellings. Indien jy dit nie verstaan nie maar eerder wil fuif en partytjie hou, is hierdie uitstappies nie vir jou nie. Dronk en luiddrugtige persone sal die vertellings glad nie waardeer nie, die uitstappie vervelig vind en daarom ook onwelkom voel.

Gaan ek ‘n spook sien?
Ons roep nie geeste op of jag spoke nie. Dit is onnodig, want die geesteswêreld is permanent om ons teenwoordig en openlik vir almal om te ervaar wie hulle daarvoor ontvanklik maak. Diegene vind gereeld orbs- en ander bonatuurlike verskynsels op die foto’s wat hulle geneem het, of kry koue rillings op ander plekke tydens die uitstappies. Maar dit bly uiteraard die fenomeen se eie keuse of hulle hul teenwoordigheid wil wys al dan nie.
As jy die geleentheid wil bywoon met die doel “om ‘n spook te sien”, is jy beslis by die verkeerde plek.

‘n Ouderdomsbeperking?
Nee, nie van ons kant af nie. Ouers ken hul kinders en sal self weet of hulle gereed is om ‘n uitstappie soos hierdie, wat ongeveer 4½-ure lank duur, mee te maak. Ons ondervinding is egter dat kinders van jonger as 16 moontlik nie aanklank hierby sal vind nie, maar dit bly die ouers se eie keuse.
Dit is verder ook net logies dat voorskoolse kinders en babas nie geakkommodeer kan word nie.

Is die aanbieding nie on-Bybels nie?
Ons onderskryf die Christelike geloof wat glo dat die geesteswêreld wel bestaan waarvan die Bybel ook vol voorbeelde is. Verder is daar wêreldwyd letterlik miljoene vertellings van mense wat dit ervaar het. Dink maar aan gevalle soos naby-dood-ondervindings of waar die gees van ‘n afgestorwene aan ‘n geliefde verskyn om vertroosting of advies te bring. Tydens die aanbieding vertel ons meer hiervan.
Die deurlopende tema is dat die Goddelikheid, asook die Hemel of Paradys, wel ‘n werklikheid is.

Hoe bespreek en betaal ek?
Voordat jy bespreek, maak seker jy weet wat die uitstappie behels sodat jy nie jou geld sal mors nie. Kaartjieverkope is nie ons prioriteit nie; veel eerder gaste wat almal die aand sal geniet.
Eers wanneer jy seker is dit is vir jou, bespreek dan aanlyn vanaf hierdie webwerf waarna jy jou bevestigingsbrief binne 12 ure sal ontvang met al die verdere nodige besonderhede.
Sitplekke is onderhewig aan beskikbaarheid en is eers geldig na jou betaling met ‘n EFT gemaak is en jy ‘n bevestigings-epos ontvang het.

Hoe bly ek op hoogte van toekomstige toerdatums?
Maklik! Teken in op ons nuusbrief, sluit aan by die Facebook-blad of loer net gereeld in by hierdie webblad.


VRAE VAN TOEPASSING OP DIE PRETORIA SPOOKBUSTOER

Wat behels die aand?
Kry meer inligting hier

Hoeveel kroeg- of restaurantbesoeke?
Ons besoek nie ritse drinkplekke of restaurante om die tyd te verwyl nie, want die toer is reeds vol gepak met talle klassieke spookverhale en geskiedkundige vertellings. Hierdie is ‘n teater-op-wiele aanbieding, en nie ‘n “partytjiebus” nie.
Dit is dan ook logies dat geen koelsakke met wegneem-etes of drank saam geneem mag word nie.
Daar is wel ‘n klein snoepie op die bus beskikbaar met koeldrank, water en eetgoedjies om die innerlike te versterk.

Waar klim ons af?
Om dit te vra, of te wil weet watter roete gevolg en watter stories vertel word, is presies dieselfde as om vir die regisseur van ‘n teaterstuk te vra wat die storielyn is voordat jy daarna gaan kyk, of van ‘n romanskrywer te wil weet hoe die boek eindig voordat jy dit lees.
Dit sal jou belewenis daarvan totaal vernietig.
Die Pretoria Spookbustoer is net soos ‘n fliek of teaterstuk ‘n professionele aanbieding met verskeie verrassings-elemente tussen die storievertellings in verweef. Tydens die vertellings ry ons met die bus terug in tyd verby die plekke waar van dié verhale en legendes oor die afgelope 100 jaar afgespeel het. Die stories wat vertel word en die plekke waar ons afklim om foto’s van die geboue van naderby te neem, kan verskil van toer tot toer en is nie noodwendig elke keer dieselfde nie.


VRAE VAN TOEPASSING OP DIE RAYTON-MET-SPOOKSTORIES-UITSTAPPIE

Wat behels die uitstappie?
Kry meer inligting hier

Wat behels die akkomodasie-geriewe?
Ons eet en slaap oor in ou treinwaens sodat ons hierdie nostalgiese ondervinding weer kan herleef soos dit destyds was. Die akkomodasie is dus geensins bedoel om ‘n ster-gradering soos ‘n hotel te hê nie.
Die treinwaens bestaan uit ‘n hoofwa, 1ste klas en ‘n ekonomiese klas. Elke wa is opgedeel in kompartemente met ‘n variasie van dubbel-, driekwart- en enkelbeddens. Wanneer jy bespreek, kies jy ‘n wa en ‘n kompartement volgens jou behoeftes.
Jy sal meer inligting oor die verskillende keuses op die besprekingsblad vind.
Soos by enige publieke-oord maak gaste gebruik van gemeenskaplike badkamergeriewe, hoewel die drie kompartemente in die 1ste klas-wa elkeen oor ‘n eie badkamer beskik.

Wat van eet- en drinkgoed?
‘n Braaivleis-ete (Saterdagaand) en ontbyt (Sondagoggend) is ingesluit in jou kaartjieprys.
Na afloop van die storievertellings-aanbieding Saterdagaand is daar ‘n klein, basiese kontantkroeg by die venue beskikbaar. Jy is egter welkom om ‘n koelsak met jou eie drankies saam te bring.

Die Pretoria Spookbus Toerproduksie